Adien Linström, bekende inwoner van Bergprag-aftreeoord in Bethlehem, het vir ons ‘n kykie in haar vol en vrugbare lewe gegee.
Adien is ‘n Vrystater van geboorte (Harrismith), en het ná haar studies eers in Sasolburg en daarna in Bethlehem by die Onderwysdepartement se Kinderleidingkliniek gewerk.
Sy het vir baie jare gereeld siek geword, maar kon nooit ‘n diagnose kry nie. Eers ná 34 lang jare is sy gediagnoseer met veelvoudige sklerose, wat haar breinfunksie aangetas het. In 2015 is sy medies ongeskik verklaar en het die siekte verder net probeer bestuur.
In 2018 het ‘n genesingspan intensief vir haar gebid en die Here het haar gesondheid omgekeer. Binne drie weke was haar breinfunksie normaal, alhoewel daar steeds kolle op haar brein gewys het. Sy lei tot vandag toe ‘n feitlik normale lewe, sy moet haarself net baie mooi oppas deur haar nie te ooreis nie.
Sy kon nie terugkeer na haar beroep nie, en het vir God gevra wat sy verder met haar lewe moet doen. Sy wou uit dankbaarheid vir Hom werk en Hom eer deur haar lewe. Ps. 4:4 is wat haar rig: God wil wonders doen vir dié wat aan Hom getrou is.
Adien was betrokke by die CT Kinderhuis, maar het geweet dat haar seisoen met kinders eintlik verby is. Sy het die huismoeders gehelp met pastorale terapie en hulle het begin om familie en vriende na haar te verwys. Só het haar Bethlehem-bediening begin en gegroei. Sy moes later afskaal weens ooreising, maar soveel mense in Bethlehem kan getuig van hoe sy hulle gehelp het om emosionele pyn te oorwin.
Adien het verlede jaar, nog voor die pandemie begin het, telkens die dorp Fraserburg op verskillende plekke en tye gehoor - dit het heeltyd haar aandag getrek. Sy het op ‘n stadium besef dat die Here haar roep om in hierdie dorpie in die Noord-Kaap te gaan pastorale hulp verleen aan die droogte-geteisterde boere en dorpenaars.
Haar gemeente se dominee het “toevallig” die dominee in Fraserburg geken, sy het “toevallig” ‘n verlangse familielid daar gehad EN sy kon ‘n spesiale inperkingspermit kry om te ry en berading te doen – só het die Here haar pad oopgemaak om te gaan bedien en haar roeping uit te leef.
Ook die afsprake het net gebeur toe sy daar aanland. Soveel mense het vooraf vir haar gesê dat sy onbekend is in Fraserburg, hoe sal die mense dan na haar toe kom? Maar uiteindelik het sy in twee maande sowat 80 afsprake gehad. Sy het ook by ‘n skool en Bybelstudiegroep bedien.
Dit was ‘n baie uitputtende tyd, maar so vervullend. Sedert Desember is sy steeds met die mense daar in kontak via Whatsapp en telefoonoproepe en bemoedig sy hulle steeds.
Ná ‘n tyd van rus is Adien nou weer op pad na Fraserburg! In die eerste week van Mei vertrek sy soontoe vir ‘n maand, haar werk is nog nie klaar nie… Die droogte is nog nie gebreek nie, al het daar wel ‘n bietjie reën geval. En die gevolge van die droogte, die swaarkry en die emosionele letsels is nog steeds daar. Maar Adien is ook daar - om te doen wat sy weet sy moet doen. Bethlehem en die Here is trots op jou, Adien!
![](https://static.wixstatic.com/media/d9721d_c78bd613ed304c9e8c84a84c24cb97ba~mv2.jpg/v1/fill/w_980,h_980,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/d9721d_c78bd613ed304c9e8c84a84c24cb97ba~mv2.jpg)
![](https://static.wixstatic.com/media/d9721d_413ffbaa864e4130ab94ab9b675463bc~mv2.jpg/v1/fill/w_980,h_654,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/d9721d_413ffbaa864e4130ab94ab9b675463bc~mv2.jpg)
![](https://static.wixstatic.com/media/d9721d_ed9bd340d4f94eed914534967d8287fc~mv2.jpg/v1/fill/w_980,h_621,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/d9721d_ed9bd340d4f94eed914534967d8287fc~mv2.jpg)
Comments