Goeiedag aan ons Omgee-hart Familie! Ons glo almal is nog gesond en veilig, terwyl die coronavirus en inperkings steeds ons lewens ongelooflik impakteer. Soveel te meer moet ons in hierdie tyd saamstaan en alles moontlik doen om mekaar te help en te ondersteun.
ChangeNetSA funksioneer weer op vol sterkte, en baie mooi dinge het die afgelope maand gebeur. Daar is natuurlik gevolge van die inperking wat nog steeds hanteer moet word, maar die vordering op alle vlakke is so geseënd – ons harte is baie dankbaar teenoor ons Vader.
Wat die afgelope maand by ChangeNetSA gebeur het:
Daar is weer daagliks mense van kos voorsien. Almal word baie goed deur die Poverty Police-afdeling gemonitor, sodat mense op die regte manier gehelp word.
Ons Winterprojek met R 200 koopbewyse is nog steeds besig om goeie vrug te dra. Baie dankie vir oop hande en harte! Net weer ter inligting: Dié van ons wat kan gee, kan so ‘n koopbewys se bedrag inbetaal. Klere en elektrisiteit word dan verskaf aan mense in nood, deur die inkomste uit hierdie koopbewyse.
Kyk gerus op ChangeNetSA se Facebook-bladsy om deel te neem. Daar was ook ‘n berig oor die projek in die Vrystaat koerant ‘n paar weke gelede.
Ook in die Vrystaat koerant – ‘n storie van hoop en herstel is met die gemeenskap gedeel. Coenie Horak, nou ‘n tutor by ‘n tuisonderrig-sentrum, se storie het harte aangeraak. Dit is waarom ChangeNetSA bestaan – om mense hoop en ‘n toekoms te gee…
Die Poverty Crusaders klerewinkel is weer voluit aan die gang en doen baie goed! Die winkel is nou ‘n bekende afsetpunt in die dorp. Klere kom nog steeds in, en onthou, R10 per sak word betaal sodat iemand se lewe weer verander kan word (Pay Forward). Die verkope van die klere word aangewend om welsynsorganisasies te help en die ander programme van ChangeNetSA te finansier.
Die klerewinkel het ook ‘n “Online Store/Thrift Shop” gevestig. Daar word nou iemand benodig om dit te bedryf. Dit is ‘n geleentheid om ‘n kommissie-inkomste op te bou. Laat weet ons asseblief indien jy wil deelneem, of weet van iemand wat op soek is na so ‘n inkomste-geleentheid.
Die baie mooi storie wat ons verlede maand gedeel het, oor die vestiging van
hawelose/werklose mense in YWAM se Bakenpark-gemeenskapsentrum, het uitgebrei, met
nog ‘n paar sulke plasings in die drie-maande program van die sentrum. ChangeNetSA
dra steeds by om voedsel aan die sentrum te verskaf, en het langtermyn werkskeppings-
planne vir die hervestigde persone daar.
Soos altyd - dit is deur saam te werk dat ons sterker word en ons gemeenskap kan dien!
Omgee-hart Familie groete,
Retha Pretorius
![](https://static.wixstatic.com/media/d9721d_90de574474174db29509dc2b524e7249~mv2.jpg/v1/fill/w_980,h_557,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/d9721d_90de574474174db29509dc2b524e7249~mv2.jpg)
Yorumlar