Deur Susan Maré
‘n Spesiale heenkome vir kinders. Dit is wat die Bethlehem Tutorsentrum in Faurestraat 5 (Môrelig) vir kinders bied, wat nie heeltemal in hoofstroomskole inpas nie en graag hul hoërskoolloopbaan wil voltooi. Justice Scott van ChangeNetSA is die breinkind van hierdie projek.
Volgens Coenie Horak, onder wie se leiding die senior sentrum is, word die Impaq-aanlynleerplan gevolg, wat een van die beste aanlynstelsels is en selfs internasionaal erken word. Bethlehem is gelukkig dat daar so ‘n heenkome is vir kinders en dat dit hulle in staat stel om te matrikuleer om verdere opleiding aan universiteite, kolleges en ander opvoedkundige instellings te ontvang. Die standaard van Impaq is hoog en dieselfde CAPS leerplanne as dié van skole word gevolg.
Coenie sê wat die Bethlehem Tutorsentrum besonders maak, is dat dit ‘n veilige hawe is vir kinders waar hulle nie gedruk voel nie, maar waar hulle hul studies op hul eie pas met die hulp van kundige tutors kan doen en voltooi. Die graad 4 tot 12-sentrum in Môrelig het op die oomblik 23 tuisleerlinge, terwyl daar 16 tuisleerlinge in die junior sentrum in Panorama se graad R- tot 3-groep is.
In die "Outisme Lighuis" op dieselfde terrein, in samewerking met die departement van onderwys, is daar reeds nege kinders tussen 2 en 10 jaar met pragtige suksesverhale en waar baie van dié kinders vir die eerste keer begin praat het.
"Hier by die sentrum kyk ons holisties na kinders. Die kind is belangrik. Hier is geen geboelie nie en ons werk daaraan om kinders op te bou en aan hulle die beste ondersteunende hulp te verskaf. Hulle kry selfs ekstra klasse in Wiskunde by Dr. Anita Scott, wat saam met haar man, Justice, betrokke is by die sentrum. Ons is dankbaar vir hierdie wonderlike geleentheid wat geskep is om die belange van kinders te dra,” sê Coenie.
Een van die ouers van Bethlehem Tutorsentrum, Daleen Saaiman, praat met lof van die Bethlehem Tutorsentrum: “Een van my kinders is ‘n dromertjie en het in die skool waar sy was as’t ware verdrink. Haar selfvertroue in ‘n hoofstroomskool was geknou, sy was depressief en dit het nie goed met haar gegaan nie. In die geborge omgewing van die tutorsentrum is sy besig om haarself te vind. Sy word opgebou in haar menswees. My kind sing as sy sentrum toe gaan en sien uit na die liefdevolle omgewing. Ek is baie dankbaar vir die keuse wat ons gehad het om haar na die Tutorsentrum te stuur. Dis ‘n plek waar elke kind tel en belangrik is. Dankie aan almal betrokke wat vir kinders soos my kind in Bethlehem ‘n heenkome bied.”
Die tutorspan vir kinders van grade 4 tot 12 is Tanya Kuret-Coetzer, Malcolm Griffiths, Elise Claassens, John Fourie, Coenie Horak, dr. Anita Scott en haar man, Justice.
Grade R-3 se tutors is Anel Landman, Marietjie Rheeder, Margaret Majola en dr. Anita Scott.
Foto’s van ondersteuners wat die Coffee Shop Day by die Bethlehem Tutorsentrum in Faurestraat bygewoon het:
Groepfoto: Voor: Di. Stephan Swart en Dougie Bubb, Anette von Caues en Annatjie Kruger. Agter: Leon Badenhorst, Coenie Horak en Justice Scott.
Foto 2: Daleen en Bianca Saaiman.
Comments