Chris Vermeulen, van Bethlehem in die Oos-Vrystaat, is ‘n afgetrede polisieman, wat regoor die land diens gedoen het. Hy het tot onlangs in Ladybrand by die logistieke afdeling van die SAPD gewerk.
Twee van hul kinders is onderwysers in Bethlehem en die paaie is so onbegaanbaar, daarom het hulle besluit om eerder na Bethlehem te verhuis.
Chris is ‘n ywerige leser en veral ‘n versamelaar van Heinz Konsalik se Afrikaans-vertaalde boeke. Deur die jare het hy ‘n versameling van al Konsalik se boeke opgebou, 104 van hulle. Hy het egter een boek gekort om die volle versameling van 105 te voltooi. Die plaaslike biblioteek het die uitstaande boek op hul rakke gehad, maar wou dit nie aan Chris verkoop nie.
Iemand het vir Chris vertel van die groot hoeveelheid boeke by ChangeNetSA se Poverty Crusaders-winkel in Unionstraat. Chris het gaan kyk of hy moontlik die uitstaande boek kan opspoor. Toe hy die stapels en stapels boeke sien, het hy aangebied om dit as vrywilliger uit te sorteer en in rakke te organiseer.
Gelmar Boards het afvalhout geskenk en dit volgens mate gesny. Chris ken van houtwerk, hy het die rakke aanmekaargesit en siedaar – die boeke het ‘n netjiese tuiste gevind.
Tussen die baie boeke het Chris ‘n paar waardevolle geskiedkundige Bybels en teologiese boeke ontdek. Hierdie boeke is deur ChangeNetSA aan die Bethlehem Museum Trust geskenk.
Van die boeke is in Hollands geskryf deur bekende predikante soos Prof. G.P. van Itterzon van die Rijks Universiteit in Utrecht en Dr. A. Trouw van Amsterdam. Prof. van Itterzon was ‘n baie bekende skrywer van kerkgeskiedenisboeke en Dr. Trouw het verskeie teologiese boeke geskryf. Van die Bybels dateer uit die vroeë 1900’s en is ook in Hoog-Hollands geskryf.
Daar is ook kinderboeke uit Den Haag wat dateer uit vroeëre tye. Ook tussen die boeke is ‘n boekie vir “De Jonge Lidmaat” wat oorhandig is aan Christina Joachima van der Merwe met haar aanneming en voorstelling in die Graaff Reinet NG Kerk op 27 Januarie 1912, deur Ds. P.A. Theron.
Nog van die boeke wat ontdek is, is ‘n gedenkboek wat in 1949 uitgereik is vir die 100-jarige viering van die NG Kerk op Harrismith en die Jubileum-Gedenkboek van die Nederduits Hervormde- of Gereformeerde Kerk van Suid Afrika in 1942.
En Chris se Konsalik-versameling? By die winkel waar hy die boeke so mooi uitgesorteer het, was daar ongelukkig nie die boek waarna hy so gesoek het nie. Maar hy het die uitstaande boek wel in Bloemfontein opgespoor, en gaan dit binnekort daar afhaal…
![](https://static.wixstatic.com/media/d9721d_cbc1206f45074183ad675e01afe3b726~mv2.jpg/v1/fill/w_980,h_427,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/d9721d_cbc1206f45074183ad675e01afe3b726~mv2.jpg)
![](https://static.wixstatic.com/media/d9721d_da7dc83cb23845d0a58ff0368ba347e1~mv2.jpg/v1/fill/w_980,h_1673,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/d9721d_da7dc83cb23845d0a58ff0368ba347e1~mv2.jpg)
Comments