top of page

BLOG

Search

Dorp van die Jaar besoek Bethlehem

Writer's picture: ChangenetSAChangenetSA

Op Saterdag 18 Februarie het Bethlehem ‘n langverwagte besoek ontvang, wat reeds in November 2022 geïnisieer is.


André van Pletzen, die reeds bekende dryfkrag agter die 2022 Dorp van die Jaar-kompetisie van kykNet, saam met een van sy Ignite & Revive Kroonstad-komiteelede, Pieter van Rensburg, het in Bethlehem kom kuier.


Die besoek het plaasgevind by die New Beginnings-fasiliteit van ChangeNetSA, waar, sedert die begin van die jaar, verskeie persone met uiteenlopende spesiale behoeftes gehuisves word.


Die oggendbyeenkoms het ‘n gesprek tot in die middag geword, met ‘n lekker pizza-ete en baie koffie om die breins skerp te hou!


André en Pieter het in detail hul pad tot by die Dorp van die Jaar met die sewe teenwoordige lede van die Bethlehem-gemeenskap gedeel. Voorwaar ‘n merkwaardige pad van baie teenstand, opposisie en vasbyt, maar ook ‘n pad van bonatuurlike deurbrake en verhoudingsuksesse.


André ken Bethlehem baie goed, hy het op ‘n tyd ‘n besigheid in ons dorp bedryf. Hy voel dat Bethlehem eintlik baie meer faktore in ons guns het as Kroonstad, om die dorp weer tot sy volle glorie te herstel. Ook deel die Kroonstad-groep en die Bethlehem-teenwoordiges ‘n diep geloof in God - alles wat bedink word, word eers aan Sy goedkeuring getoets.


Justice en Anita Scott van ChangeNetSA het hierdie organisasie se storie vertel. Almal teenwoordig het tot die besef gekom dat ChangeNetSA reeds soveel netwerke en kontakte oor vyf jaar opgebou het, dat daarop voortgebou moet word. Die menslike aspek is vir ChangeNetSA van primêre belang. Maar, wanneer hul besigheidskonsepte deur die gemeenskap bevorder en ondersteun word, sal genoeg inkomste gegenereer kan word om ook die infrastruktuur te herstel.


Daar is ook baie gefokus op verhoudinge met die munisipaliteit, en goeie raad in daardie verband is deur ons Kroonstad-vriende verskaf. Gelukkig bestaan daar reeds sulke goeie kontakte in Bethlehem, waarop die inwoners kan voortbou.


Daar is groot omwentelinge aan die kom – Bethlehem-inwoners kan gerus die hoofstroom- en sosiale media dophou vir inligting en maniere om hul talente beskikbaar te stel vir hierdie belangrike inisiatief. Luister gerus na Maluti FM vir ‘n kompetisie om ‘n naam vir hierdie grootse projek te kies.


Baie dankie Kroonstad, ons sien uit daarna om verder met julle kontak te hou en idees uit te ruil.


Foto, l-r: Voor: Anita Scott, Retha Pretorius, Pieter van Rensburg en André van Pletzen. Agter: Justice Scott, San-Mari van der Werff, Gert van der Werff, Piet Swiegers en Braam Botha.




12 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page