‘n Brullende motorfietsgroep van oral oor die Oos-Vrystaat het op Saterdag 14 Oktober die strate van Bethlehem ingevaar. Maar dit was nie sommer vir die pret nie.
Pret was deel daarvan, maar die idee daaragter was om fondse in te samel vir die Autism Lighthouse van ChangeNetSA in Môrelig, spesfiek vir ‘n “jungle gym” vir die kleingoed. Adele Fourie, Mrs. Universe SA 2023 semi-finalis en ambassadeur van ChangeNetSA het die “Fund Run for Change” georganiseer.
Dit was ‘n pragtige geleentheid, selfs die weer was wonderlik. Die ryers het vanaf Dihlabeng Mall weggetrek en na die Lighthouse in Faurestraat, Môrelig gery. Daar het Adele asook Anita en Justice Scott met hulle gesels en hulle bedank vir hul ondersteuning, beide finansieel en met hul tyd. Daar is ook vertel waaroor New Beginnings en die Lighthouse gaan. Die personeel het hulle rondgewys en in meer detail van al die aktwiteite op hierdie terrein vertel.
Die “bikers” was nogal verstom oor alles wat daagliks hier gebeur. Motorfiets-entoesiaste is bekend vir hul groot harte en vrygewigheid teenoor die weerloses van die samelewing; hierdie groep het dit waardeer om by die Lighthouse betrokke te raak.
Die volgende stoppunt op die roete was by die BMW-handelaar in Mullerstraat. Daar is almal trakteer met iets koel te drinke en iets om die honger te stil. Lekker musiek uit een van die motorfietse se klankstelsel het ‘n vrolike atmosfeer geskep. Hanno Coetzee van BMW se motorfietsafdeling het hierdie deel van die dag gereël.
'n Besondere oggend, en nou kan die kleingoed uitsien na hul nuwe opwindende speelapparaat!
![](https://static.wixstatic.com/media/d9721d_25fa5c70ebad43c6b6d78c802964eb82~mv2.jpg/v1/fill/w_980,h_980,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/d9721d_25fa5c70ebad43c6b6d78c802964eb82~mv2.jpg)
![](https://static.wixstatic.com/media/d9721d_696cab4245774ab293b2986d0e2578d2~mv2.jpg/v1/fill/w_980,h_735,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/d9721d_696cab4245774ab293b2986d0e2578d2~mv2.jpg)
Comments