Soos heelwat jong manne van ons tyd, het Janri du Plessis in 2015 in die VSA op ‘n plaas gaan werk. Sy ouers, Dawie en Thia du Plessis van Bethlehem het hom die geleentheid gegun, maar dinge het nie goed verloop vir Janri nie…
Hy het ‘n paar maande gewerk, toe hy een aand ‘n passasier in ‘n vriend se voertuig was. Die vriend het ongelukkig beheer oor die voertuig verloor, ‘n baie dik telefoonpaal getref en Janri is 30 meter ver uitgeslinger. Hy sou nie oorleef het as hy ‘n veiligheidsgordel gedra het nie. Nog vriende in die groep in ander voertuie het gereël dat hy onmiddellik per helikopter hospitaal toe geneem word, maar daar was min hoop vir oorlewing.
In die hospitaal in die deelstaat Kansas was hy vyf keer dood en het weer teruggekom…
Janri was in Matriek in Voortrekker Hoërskool in 2010, in 2011 by AFC Spirit Word vir ‘n geestelike jaar en uitreike tot 2012 en daarna na Orsmond vir meganiese vliegtuigopleiding tot 2015. Hy wou op daardie stadium na die VSA gaan vir fondse vir verdere studies.
‘n Week voor ongeluk het Janri vir Thia en Dawie geborg om ‘n spesiale geestelike konferensie by te woon – dit was hoe die Here hulle voorberei het.
Toe hulle hoor van die ongeluk het hulle, op ‘n wonderbaarlike wyse, binne vier ure ‘n visum gekry. Hulle het ook dadelik die saak met die vriend wat bestuur het en sy ouers uitgemaak en vergifnis uitgeleef.
Daar was bonatuurlik geen vrees by hulle nie. In die intensiewe sorg-eenheid het Dawie en Thia Woord oor Janri gespreek – dat dieselfde gees wat in Jesus leef, ook in Janri leef. Sy brein het bly swel, hulle het bly Woord spreek. Omdat hy bly leef het en nie gesterf het nie, het die suster gesê: “I don’t know what you’re doing, but something is working.”
Dawie het ná twee weke teruggekom na Suid-Afrika. Thia het elke dag by Janri gesit, vir twaalf ure elke dag. Die versekering het geweier om te betaal om na Suid-Afrika te repatrieer. Thia het einde Oktober teruggekom, die situasie met Janri in ‘n koma het net vir haar te veel geraak.
Voordat sy teruggekom het, het sy en Janri ondersteuning ontvang van twee vroue in die VSA en die een se man, ‘n pastoor.
Thia was ses weke terug by die huis, waartydens Janri se toestand niks verbeter het nie. Op ‘n manier het Janri deur middel van die hospitaal met haar kontak gemaak en Dawie het haar aangemoedig om weer terug te gaan. Maar vliegkaartjies is duur. Caritas College, waar sy gewerk het, se bestuursraad het haar gehelp met finansies, en haar aangesê om nie terug te kom sonder Janri nie… al sou dit eers die volgende jaar wees.
Terug by Janri, het Thia weer by hom gesit, maar hy het geen vordering getoon nie. Hy het nog nie geëet of gesit nie Sy het op ‘n streng manier vir hom gesê: “Mannetjie, ons is so ver van almal, jy moet nou loop en eet sodat ons kan huis toe gaan!” Hy het met sy vingers gewys hy wil huis toe gaan. Hy was maar goed kwaai, nadat hy altyd so ‘n sagte persoon was. Hy het egter rustiger geraak, en sy het besef hy is helder van verstand en raak dors. Die volgende dag het hulle vir hom begin kos gee, puree, want hy kan sluk, maar nie water nie. Sy keel was rou en seer omdat hy vir vier maande nie geëet het nie.
Sy was steeds streng met hom, hy moes eet, en hy het ook bo-op haar voete saam met haar geloop, maar hy kon steeds nie sit nie. Janri het wel sy eerste woorde begin praat.
Hulle wou terugkom en Braam Botha het gehelp met die regsgedeelte, met AIG wat nie wou nie repatrieer nie. Die versorgers het vir ‘n vergadering met Thia gevra, hulle was in trane. Sy moes op haar eie met haar en Janri se Delta-kaartjies teruggaan, want die hospitaalkostes was te hoog, tot $10 000 per dag vir intensiewe sorg.
Al die terapeute en dokters was in die vergadering. Thia het gesê dat haar God haar sal help met die vlug. Een vrou het vir haar gesê: “ Well done!”
Steeds het Janri verbeter. Iemand het hom in ‘n rolstoel gestoot op die gronde, en soos hulle ry, lees Janri al die name op die borde. Ten spyte van sy groot breinskade het hy steeds verbeter.
Jesse, wat hom in die rolstoel gestoot het, het in die kapel vir Janri gebid terwyl Thia op die klavier speel. Toe hulle daarvandaan terugkom, wou die versorgers hulle weer sien.
AIG het besluit om wel te betaal vir die repatriasie, en… hulle sal hom in ‘n private straalvliegtuig laat terugkeer na Suid-Afrika en dit alles betaal. Die suster huil: “So strange what you are doing. Other moms with kids who have the same injuries just leave them here and go on with their lives.”
By Heathrow lughawe het Thia byna ineengestort van al die trauma en spanning, sy kon nie ‘n tree verder nie. Maar haar krag het sy uit Hebreërs gaan haal – “…strengthen yourself, lift up your knees that you may have power…” en sy het voortgegaan met die reis.
Toe Janri by die huis kom uit die VSA was hy ‘n vreemdeling vir hulle. ‘n Dokter in Potchefstroom het gesê hy sal nie weer loop, eet of gewoonweg lewe nie. Dis verkeerd bewys: ‘n hele paar terapeute, onder ander ‘n perde-terapeut, het in Bethlehem met hom gewerk en hy verbeter nog steeds, tot vandag toe.
Voordat hy teruggekeer het na Bethlehem het Janri by Potch se rehabilitasiesentrum, Witrand, net agteruitgegaan. Vriende wou betaal om hom in ‘n tehuis te sit, want dit was moeilik. Maar Thia en Dawie het nie kans gesien nie. Wie gaan vir hom Nagmaal bedien, wie gaan vir hom en saam met hom die Woord lees, wie gaan vir hom bid? Hy is ‘n kind van die Here, en dit moet hy bly.
Janri is lus vir die lewe en sy ouers wil hê hy moet heel wees, al is dit op 31 Augustus 2022 reeds sewe jaar sedert die ongeluk.
Die drie van hulle is dankbaar vir elke verbetering. Hulle speel skaak, en sedert Februarie 2022 werk Janri by ChangeNetSA se winkel en pakhuis. Dis vir hom so goed, want hy het gewoond geraak om saam met sy pa werk toe te gaan, waar Dawie proewe op plase gedoen het. Dit moes ongelukkig gestaak word, maar nou word hy by ChangeNetSA aangewend en gestimuleer. Deesdae gaan hy ook alleen inkopies doen, wat hy eers nie kon doen nie.
Toe Janri nie meer saam met Dawie kon gaan nie, het Thia bedags na hom omgesien. Karli, Janri se suster, het met Sarina by CRC gesels, Sarina het met Justice van ChangeNetSA gesels en hy het Janri genooi om by die winkel te kom inval.
Die Here het nog altyd die mense van ChangeNetSA bymekaargebring op unieke, goddelike maniere, soos ook in hierdie geval.
Die aanpassing was vir Janri moeilik, maar die mense by “die Warehouse” was so vol begrip - Santa, Susan, Maki, Justice en die ander. Thia en Dawie is so dankbaar dat hy daar kan wees - heeldag by die huis sou nie vir hom of sy ouers goed wees nie.
Janri trek elke oggend netjies aan en sy korttermyngeheue vorder, maar is nog nie heeltemal herstel nie. Sy inhibisies is ook al beter.
Voeding is belangrik – hulle eet so ver as moontlik organiese kosse. Hulle vermy suiker, soos koekies, en koffie, nadat Janri in 2020 epileptiese aanvalle begin kry het.
As hy soms kwaai is, vestig mens net sy aandag op iets anders, dan swaai sy gemoed dadelik om. Hy moet liewer nie internet gebruik nie, dit is nie goed vir sy gemoed nie. Janri sou graag ‘n goeie vriend wou hê, maar jongmense wat sy situasie verstaan, is nie maklik te vinde nie.
Maar die Here se hand is oor hom, en Hy het Janri tot hier gebring met soveel bonatuurlike ingrypings. So sal Hy hom ook verder dra en in sy behoeftes voorsien…
![](https://static.wixstatic.com/media/d9721d_ba3433ee1920455098e184f38ecaa5de~mv2.png/v1/fill/w_281,h_381,al_c,q_85,enc_auto/d9721d_ba3433ee1920455098e184f38ecaa5de~mv2.png)
![](https://static.wixstatic.com/media/d9721d_3cae6b96d03940998a51fbbfbd50659e~mv2.jpg/v1/fill/w_980,h_1307,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/d9721d_3cae6b96d03940998a51fbbfbd50659e~mv2.jpg)
Comments