'n Groot dankie aan elkeen vir die ondersteuning en die sukses van ChangeNetSA se heerlike familiedag op Vry 16 Jun. Die Jeugdag-event is gehou om, onder andere, bewusmaking van outisme te bevorder.
Die gemeenskap het uit alle sektore saamgekom om die dag te geniet. Daar is krieket gespeel vir ‘n wisseltrofee (en biltong), gewen deur The Perfect Corner The Perfect Lodge. Hulle het teen BethNet Security in die finaal gespeel. Mini-krieket met pryse is ook gespeel, sowel as sosiale vlugbal (volleyball).
Gratis perderitte was ‘n wenner - dit het groot byval gevind by kinders en volwassenes. Markstalletjies het lekkernye en interessante produkte verkoop, en Tweeling se spitbraai was, soos gewoonlik, ‘n treffer by almal. Lekker musiek deur Hardware Mecca se “sound stage” het ‘n vrolike atmosfeer verseker.
Deur ChangeNetSA se verskeie inisiatiewe, soos Move 500 en 'n event soos hierdie, kon hulle op die dag finansiële bydraes maak aan klein Liza se mediese kostes, Bethlehem Christensentrum, G300 Youth, Bethlehem Museum en Caritas College. “Tjeks” is tydens die spitbaai-ete aan hierdie instansies oorhandig.
Die toegewyde span van ChangeNetSA se doel is om die totale gemeenskap te ondersteun, met finansies en ook soos wat reeds by die New Beginnings-fasiliteit in Môrelig aan die gebeur is. ‘n Hele aantal persone met moeilike omstandighede word daar tydelik gehuisves en ondersteun. Daar is ook verskeie outistiese kinders wat op weeksoggende soontoe kom en met die hulp van terapeute ‘n kans in die lewe gegee word – hulle neem deel aan goedgekeurde programme, en hulle floreer! ‘n Dag soos hierdie sal in die toekoms ‘n jaarlikse instelling word. ‘n Rolbaltoernooi word reeds vir September beplan, asook ‘n naweek van lekker aktiwiteite in November, soos ‘n hindernisbaan-uitdaging en ‘n “Thanksgiving”-ete.
Foto: Mini-krieket in aksie. Voor: San-Marie Du Plessis en Bokang Radebe. Agter hardloop Dian Schoombee terwyl Deon Schoombie van DS Academy, fasiliteerder en organiseerder, 'n oog hou.
Foto: Anita Scott van ChangeNetSA oorhanding 'n "tjek" aan Pastoor Johan Smith van Bethlehem Christensentrum, op wie se terrein die familiedag plaasgevind het.
![](https://static.wixstatic.com/media/d9721d_5924777851884a548bda9096040ed121~mv2.jpg/v1/fill/w_980,h_653,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/d9721d_5924777851884a548bda9096040ed121~mv2.jpg)
![](https://static.wixstatic.com/media/d9721d_305ca1391601457d901605cb08fd9be7~mv2.jpg/v1/fill/w_864,h_1152,al_c,q_85,enc_auto/d9721d_305ca1391601457d901605cb08fd9be7~mv2.jpg)
Comments