top of page

BLOG

Search

Maluti FM – Hartklop van die Vrystaat

Writer's picture: ChangenetSAChangenetSA

Maluti FM het deel geword van ChangeNetSA se Poverty Police! Hulle werk nou saam om armoede in Bethlehem op ‘n innoverende manier aan te spreek. Meer oor hierdie radiostasie:

Radio Maluti, soos voorheen genoem, het byna sewe jaar gelede begin om vanaf Bethlehem uit te saai. Die gemeenskapsradiostasie het oor die jare gegroei, gedryf deur die passie van direkteure, bestuur en vrywillige omroepers wat die doelstellings van die stasie uitleef. Radio-uitsendings behels deesdae veel meer as vantevore. Buiten die gewone uitsending op FM, stroom Maluti FM nou ook op die internet en maak gebruik van sosiale media, wat ‘n groot rol speel.

Ook in die bestuur was daar groot veranderinge. Maluti FM se stasiebestuuder, Brenda Shepherd, word bygestaan deur ‘n bestuurskomitee wat sorg dat alles vlot verloop. As gemeenskapsradio kry Maluti FM geen ondersteuning van die owerhede nie en is afhanklik van die inkomste uit advertensies en fondsinsamelings.

Die raadslede is George van der Merwe, voorheen in ‘n raadgewersrol, Tsepo Mofokeng, Dihlabeng FM se raadsvoorsitter en Biemba Mielmann, besturende direkteur van Maluti FM. Hein van Niekerk, voorsitter en afgetrede streekslanddros, tree ook op as regskonsultant.

Tydens grendeltyd het Maluti talle bykomende uitdagings gehad om sy luisteraars te bedien, maar dit het hulle ook geleentheid gegee om aan sosiale media aandag te gee. Deesdae kan Maluti FM aanlyn geluister word en die stasie word tegelykertyd op Facebook gevolg. Die warm glimlag wat jou verwelkom as jy by die Hartklop van die Vrystaat instap, is Zellandi Pienaar. Sy is die bestuursassistent, sy sorg ook dat hul sosiale media op datum bly. Du Toit Claassens is alombekend agter die mikrofoon, maar hy sweet ook agter die skerms as ‘n belangrike deel van die tegniese span.

Die oorhoofse nakoming van ICASA-voorskrifte is lewensbelangrik vir die stasie, omdat die owerheid al hoe meer gesteld is op die nakoming van die voorwaardes vervat in die lisensie. Volgens die lisensievoorwaardes moet Maluti FM in Afrikaans, Engels, Sesotho en isiZoeloe uitsaai. Maluti FM en Dihlabeng FM het onlangs ’n ooreenkoms onderteken om ICASA te versoek om beide se uitsaaitale te wysig. Daarvolgens vra Maluti FM vir Afrikaans en Engels en Dihlabeng FM versoek Engels, Sesotho en isiZoeloe.

Daar is ook nou twee splinternuwe Engelse programme wat weekliks uitsaai. Op Vrydagmiddae is die bekende stem van Cheryl Downing op lug met haar program Friday Heartbeat. Sondae vanaf 11:00 tot 15:00 kan jy inskakel om na die Frankly Awesome Show te luister, wat aangebied word deur Frank Perold.

Daar is egter nog uitdagings op die pad en hulle werk tans hard daaraan. Daar is byvoorbeeld die onderbreking van uitsendings - hulle beoog om oor te beweeg na hul eie toerusting en het reeds by ICASA aansoek gedoen vir toestemming. Die sender alleen sal ongeveer R70 000 beloop. Hulle hoop om finansiële steun te kry deur fondinsameling en steun vanuit die gemeenskap.

Met die 2020 diefstal van elektroniese toerusting het die stasie ernstige verliese gely, deurdat kritiese inligting verlore geraak het. Daar is besluit om ICASA te versoek om die uitsaailisensies na 'n nuwe maatskappy oor te dra. Dit sal verseker dat hulle kan voldoen aan al die regulatoriese vereistes. Die eerste ledevergadering het op Woensdag 7 April plaasgevind.

Die “Memorandum of Agreement” en die Grondwet van Maluti FM 97.1 is beskikbaar op die webtuiste: www.malutifm.co.za

Vir verdere inligting, kontak 082 458 0257 of stuur ‘n e-pos na management@malutifm.co.za



13 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page