Meeste van ons het die video’s op Facebook gesien, of per WhatsApp ontvang: “Kom haal vir jou aartappels by die Warehouse! Daar is agt ton wat in die gemeenskap versprei moet word, binne ‘n paar dae...”
Meals on Wheels se hoofkantoor, wat skenkings by boere en fabrieke ontvang, het van hulle voorraad op vragmotors na Bethlehem gebring.
Daar moes ‘n vurkhyser geleen word – baie dankie aan ons gemeenskap daarvoor - om die agt ton van die vragmotors af te laai, sowel as een ton One Minute Noodles.
Persone wat normaalweg kospakkies van Meals on Wheels ontvang, het gekom om te help pak in kleiner sakke. Mense het tougestaan. Bethlehem se hulporganisasies en tehuise het oorvloedig ontvang. Daar het ook mense van buurdorpe se tehuise gekom om op te laai: Reitz, Kestell en Paul Roux. Raadslede van drie wyke van die munisipaliteit het gekom en ‘n ton aartappels en ‘n hoeveelheid noedels geneem om in hul wyke te versprei.
Om dié wat gehelp is, se dankbaarheid te sien, was hartverskeurend. Dit was ook ‘n wekroep om te sien wat om ons aan die gebeur is. Mense, die nood in ons dorp is groot...
Meals on Wheels Bethlehem, bestuur deur ChangeNetSA se Poverty Police, is raakgesien deur die Meals on Wheels hoofbestuur – hulle het die Bethlehemtak kom besoek om te kom hoor wat die mense hier doen, om só ‘n organisasie só effektief te bestuur.
Ook Woolworths het Meals on Wheels in ons dorp vereer vir hul goeie werk. Vir Mandela-maand het Woolworths 67 hulporganisasies gekies, uit baie duisende landwyd, om hulle elkeen te “bless” met ‘n R 5 000 donasie. Bethlehem se Woolworths het Meals on Wheels in ons dorp genomineer deur middel van ‘n kort beskrywing/motivering van wat hulle doen en ja, ons Meals on Wheels is gekies as een van die 67!
Terug by die Potato Run: Bethlehem Meals on Wheels het besluit om ‘n soortgelyke geleentheid maandeliks te reël, met hul eie fondse en met die hulp van almal wat wil bydra – besighede, boere, en die gemeenskap.
Kontak Justice Scott by 061 534 2311 indien jy op enige manier wil bydra of graag wil kom hulp verleen met pak, sorteer en uitdeel. Die volgende datum sal op sosiale media geplaas word, kyk uit daarvoor!
![](https://static.wixstatic.com/media/d9721d_fefa75e4997f49b58f838c88e6277dec~mv2.jpg/v1/fill/w_980,h_735,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/d9721d_fefa75e4997f49b58f838c88e6277dec~mv2.jpg)
![](https://static.wixstatic.com/media/d9721d_8711e4eecb8a4fde8580c129e2429fbc~mv2.jpg/v1/fill/w_980,h_735,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/d9721d_8711e4eecb8a4fde8580c129e2429fbc~mv2.jpg)
Comments