Op die hoek van ‘n straat in Bethlehem se middedorp is ‘n pakhuis. Hierdie spesifieke pakhuis word algemeen “die Warehouse” genoem.
Die hoek van Union- en Naudéstrate het ‘n noodsaaklike en strategiese tuiste geword vir letterlik tonne gebruikte klere en ander huisware, ook ‘n tuiste vir rakke en rakke vol boeke.
Hierdie gebou is die uitvloeisel van die bekende Blousak-projek van die ChangeNetSA Groep. Die Blousak-projek is vyf jaar gelede deur Justice en Anita Scott begin. Hierdie eenvoudige maar kragtige konsep het begin met die vou en etikettering van die blou sakke deur senior gemeenskapslede. Ander gemeenskapslede en instansies het gebruikte klere in hierdie sakke gebring, en is betaal vir hul bydraes. In die veld van hulpverlening is hierdie ‘n hoogs unieke konsep, want wie betaal ooit vir “geskenkte” gebruikte goedere?
Die volume van hierdie bydraes het tot die huur van ‘n groot “Warehouse” gelei, waar die goedere individueel in die winkel daarbinne verkoop word, en ook in bale aan landwye agente verskaf word. Die agente word op hierdie manier gehelp om hul eie klein besighede te vestig of uit te bou.
Die “Warehouse” se inkomste word op ‘n wedersydse deelname-basis aangewend, waar NPO’s geld ontvang vir hul klerasie-bydraes. Ook word mense in nood, soos met ‘n afgebrande huis, bygestaan met onmiddellike hulp.
Vandag, in 2024, is hierdie gebou ‘n landmerk in Bethlehem. Die bogenoemde konsepte word steeds toegepas.
Ook funksioneer Meals on Wheels Bethlehem, as deel van die ChangeNetSA Groep, gedeeltelik vanuit die fasiliteit; sommige van die voedselhulp word vandaar versprei na NPO’s en na lede van die gemeenskap waar nood bestaan.
Daar is stelsels in plek om seker te maak die regte persone word gehelp, daar is volledige “screening” van aansoekers. Ook word die regte skriftelike prosesse gevolg, wanneer die Departement van Maatskaplike Dienste hulpverlening versoek.
Op die oomblik word die gebou geverf en die binnekant kry ‘n nuwe baadjie. Meer personeel is aangestel: gaan kuier gerus vir Rita, Christo en Maki! Ook die personeel is deel van die ChangeNetSA Groep se groter storie – dis persone met vele talente, wat weer as deel van ons ekonomie funksioneer, nadat hulle moeilike omstandighede ondervind het.
‘n Pakhuis is nie net ‘n pakhuis nie – wanneer ‘n omgeehart daarbinne klop, verander dit alles…
Deur Retha Pretorius
![](https://static.wixstatic.com/media/d9721d_a84f1f14987a45ab88108991b12152ff~mv2.jpg/v1/fill/w_980,h_735,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/d9721d_a84f1f14987a45ab88108991b12152ff~mv2.jpg)
Comentarios