top of page

BLOG

Search

‘n Vrystaatse nuwe begin

Writer's picture: ChangenetSAChangenetSA

Bethlehem in die Vrystaat is ‘n groot dorp met goeie skole, die meeste belangrike besighede is hier verteenwoordig en ons sukkel ook met slaggate, water, riool en elektrisiteit.

Die sosio-ekonomiese profiel lyk soos die meeste dorpe elders – armoede, misdaad, werkloosheid en dwelmmisbruik.

Twee mense in die dorp het vier jaar gelede besluit, nadat hulle lank by tradisionele welsynsorganisies betrokke was, om die gemeenskap se behoeftes op ander maniere te help aanspreek.

Anita en Justice Scott is die stigters van ChangeNetSA. Dis nie ‘n organisasie sonder winsoogmerke nie, maar ‘n geregistreerde maatskappy met agt afdelings wat op welsynsbeginsels werk – die wins gaan terug na die gemeenskap.

Daar is tans, onder andere, verskeie tutorsentrums, ‘n Wiskunde-sentrum en ‘n gebruikte klerestoor/winkel in volle werking en winsgewend ten bate van die gemeenskap.

‘n Perseel in die voorstad Môrelig is nou in die proses om ontwikkel te word, wat voorheen ‘n kommandokantoor en later ‘n skoolkoshuis was. Die gemeenskap, naamlik individue en veral besighede, het bygedra om die kamers se vloere te teël, mure te verf en met beddens, beddegoed en gordyne toe te rus.

Daar word op Vrydag 27 Mei ‘n Opedag gehou, waar die hele gemeenskap genooi word om te kom kyk wat reeds vermag is deur ‘n gemeenskap wat saamwerk. In 2021 het die amptelike opening van die perseel plaasgevind, waar die lint deur Anita geknip is. Op daardie stadium was dit net die dop van die gebou wat te siene was.

Die Opedag vind plaas nadat reeds baie werk gedoen is, sodat die gemeenskap kan sien wat gedoen kan word as ‘n dorp se mense saamwerk om ons naaste te help, op ‘n volhoubare manier.

Ook in die beplanning is losstaande, bekostigbare eenhede op die oop gedeelte van die grond, om persone in nood te help om ‘n menswaardige lewe te herbou. Hierdie perseel word New Beginnings genoem, presies beskrywend van sy doel. Die ontwikkeling sal bekend staan as ‘n “wellness centre,” omdat daar holisties omgesien word na die inwoners se totale menswees – liggaamlike versorging sowel as vaardigheidsopleiding, emosionele bystand en geestelike ondersteuning.

Meals on Wheels, wat deur ChangeNetSA in ons dorp bedryf word, sal ook ‘n deel vorm van die New Beginnings-sentrum.

Maluti FM, Bethlehem en omstreke se gemeenskapsradiostasie, moes onlangs hul gehuurde perseel ontruim, en is ‘n deel van die New Beginnings-gebou aangebied om hul radiostasie vandaar te bedryf. Só word die credo uitgeleef: Deur die gemeenskap vir die gemeenskap.

New Beginnings is tekenend van ‘n proses van groei en vooruitgang, wat gedryf word deur geloof, deursettingsvermoë en vasbyt deur baie struikelblokke langs die pad. Dis ‘n proses om te leer om nooit moed op te gee nie, want meer as die struikelblokke, was en is die wonderwerke rondom hierdie hele ontwikkeling en die ander platforms wat nog aan die ontwikkel is (tuisonderrig, voertuigverhuring, sosiale media en ander).

Onderliggend tot al hierdie platforms is die “Poverty Police,” wat alles en almal dokumenteer wat betrokke is, sodat niemand deur die krake val nie...

Sosiale innovasie is nie net ‘n akademiese konsep nie – hier in Bethlehem kry dit hande en voete op grondvlak, waar dit werklik saak maak.


Deur: Retha Pretorius


72 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page