top of page

BLOG

Search

New Beginnings – waar drome vlerke kry

Writer's picture: ChangenetSAChangenetSA

Deur Susan Maré


‘n Hand onder iemand se elmboog. New Beginnings in Môrelig, Bethlehem is so ‘n hand en ‘n uitsonderlike gemeenskapsprojek, wat daarop gemik is om menswees op te lig en te ondersteun. Fransie van der Westhuizen vertel wat New Beginnings vir haar beteken het: “Dit was vir my ‘n groot uitkoms. Nadat ek my werk van 32 jaar verlaat het, het ek al my geld verloor. Ek het in slaggate getrap en kon nie die mas opkom nie. Ek het selfs vir twee maande in ‘n tent gebly. Ek was een van die eerste vier inwoners van New Beginnings. Die eerste drie maande was die moeilikste – ek is uit my gemaksone gelig. Toe ek weer sien, het ek ook by New Beginnings se aktiwiteite betrokke geraak, soos by Meals on Wheels en Die Lighuis vir outistiese kinders. Dit was ‘n jaar van insig en groei wat van my ‘n beter en sterker mens gemaak het. Ek bid dat die konsep van New Beginnings landwyd raakgesien en nagevolg word. Ek is deur wonderlike leiers gehelp om myself te help. My seer vlerke is gespalk en het genees. Ek het weer ‘n doel in die lewe en is dankbaar die Here het New Beginnings op my pad beskik.”

 

Mario de Lange van Roodepoort het van New Beginnings oor RSG gehoor. Hy het geluister na ‘n onderhoud van Derrich Gardner met Justice Scott, New Beginnings se webwerf besoek en sy naam opgegee. Hy is gebel en toe hy weer sien is hy met die bus op pad na Bethlehem. Deurdat hy die 12-maande proses deurloop, is hy vandag ‘n regterhand by New Beginnings: “Ek het hier geleer hoe belangrik dit is om die Here te vertrou. Die konsepte wat hier gevolg en toegepas word is so ideaal om mense weer op hulle voete terug te sit. Mense word sielkundig, fisies en geestelik gehelp om te groei en om met hul mislukkings en emosies te deel. Hulle ontdek weer wie hulle is en waartoe hulle in staat is. My ideaal is om, wanneer ek gereed is, dieselfde konsep elders te gaan toepas. Ek wil ook mense help om weer op hul voete te kom. My ervaring hier, om te kon help met take soos om koördineerder te wees vir die taakspan en tutorsentrum, betrokke te wees by Die Lighuis en ander aktiwiteite van New Beginnings, oortuig my dat dat ek dieselfde moet gaan doen. Om ‘n hand te wees onder iemand anders se elmboog. Ek is dankbaar teenoor die Here vir hierdie geleentheid in my lewe waar ek op my voete kan kom.”

 

Die saadjie van hierdie projek, wat sowat vyf jaar gelede ontkiem het, was die visie en passie van twee Bethlehemiete – Justice Scott, ‘n oudspeurder van die Suid-Afrikaanse Polisie en sy vrou, dr. Anita, ‘n wiskundige.

 

Danksy die ondersteuning van skole, kerke, besighede, nie-winsgewende organisasies, individue, terapeute en ander organisasies kon New Beginnings ‘n suksesverhaal word. ‘n Onaansienlike ou gebou, wat eens Weermagkantore was en later die CVO-skool, het van Aspoester ontwikkel tot ‘n heenkome vir mense wat dit broodnodig het. As stigters van ChangeNetSA is die Scott-egpaar se enjinkamer New Beginnings - saam met talle ander gemeenskapsprojekte.

 

Gesels ‘n mens met die Scotts, besef jy die visie en drome wat hulle gehad het om sukkelende, moedelose en boomskraapmense gestruktureerd op nuwe spore te sit, het ‘n werklikheid geword. Hulle het mekaar in 2018 by Christenburg vir hawelose mense buite Bethlehem ontmoet, waar Anita lank betrokke was, en is kort daarna getroud.

 

New Beginnings is vir mense wat sonder uitsig op die kantlyn sit, gestroop van menswaardigheid en inkomste omdat hulle alles in die lewe verloor het. Dit is ‘n vangnet voordat kinders en/of mense op straat beland. Die plek is mooi gemaak om waardigheid te behou. Dit gee die persoon geleentheid om vir ‘n ruk lank nie te bekommer oor die dag van môre nie en met hulp en ondersteuning weer op sy voete te kom. Hierdie mense en kinders word via New Beginnings se Poverty Police-netwerk verwys.

 

Die gedagte van die Scotts was nie om tydens die eerste vyf jaar nog ‘n nie-regeringsorganisasie (NWO/NPO) te stig nie. ‘n Ander model moes gevind word. Hulle het afgeskop deur ‘n maatskappy te stig, die gebou in Môrelig uit eie sak gekoop, en kon só New Beginnings as ‘n geloofstap en roeping begin. Die maatskappy is nie vir persoonlike verryking of gewin begin nie. Danksy mense wat ingekoop het in die visie, het die projek New Beginnings se vervalle gebou gou ‘n nuwe baadjie gekry.

 

“New Beginnings is uit die gemeenskap, vir die gemeenskap,” sê Justice. “Danksy lede van die gemeenskap wat ons visie deel, klop die somme; soms klop dit nie goed nie en dan moet daar kreatief projekte aangedurf word om dit te maak klop. Waar gepoog word om mense te help en op te lig, voorsien die Here ook altyd. Ek dink vinnig aan die motorfietsgroep wat gehelp het om ‘n Jungle Gym op die terrein op te rig, wat soveel vir die outistiese kinders beteken.

 

“New Beginnings se model het ons verras en ek besef nou hoe hierdie konsep landwyd ‘n impak kan hê. Die getuienisse van mense wat gehelp kon word is ons absolute inspirasie. Ons mag nooit moedeloos word nie; ons moet New Beginnings vorentoe neem om sy potensiaal te bly ontwikkel. Maklik is dit nie altyd nie. Dit maak seer as mense ons onder verdenking plaas en ons motiewe bevraagteken. New Beginnings het niks om weg te steek nie. New Beginnings is ‘n hand onder iemand se elmboog.”

 

‘n Besoek aan die perseel van New Beginnings lewer verrassings op. Die sentrum is buitengewoon netjies en voeg waarde toe aan die Môrelig-buurt en -omgewing. ‘n Taakspan is ook betrokke en help om die bedryf van New Beginnings gereeld te evalueer.

 

Wie tans daar gehelp word is ‘n mamma met ‘n dogter, ‘n gesin met drie kinders, drie mans en twee vroue, ‘n bejaarde man en ‘n skoolseun.

 

Justice sê twee fokuspunte wat New Beginnings van NWO-instellings onderskei, is Die Lighuis vir outistiese kinders op die terrein met ‘n eie moderne klaskamer, asook die Bethlehem Tutorsentrum wat die Impaq-tuisonderrigleerplan volg. As ‘n veelsydige instelling huisves New Beginnings verskeie ander afdelings, en is ook die tuiste van Meals on Wheels in Bethlehem.

 

Die gebou waar New Beginnings bedryf word, bestaan uit slaapkamers, badkamers, ‘n ontvangsruimte, eetlokaal, ‘n groot saal, ‘n kantoor/raadskamer, ‘n goed toegeruste kombuis wat etes vir die fasiliteit en vir Meals on Wheels hanteer en ‘n netjiese klaskamer buite op die terrein vir outistiese kinders.

 

New Beginnings se groot erf is deurlopend in verfraaiing. Die tuin word ontwikkel met die aanplant van vrugtebome, blomme, plante, ‘n groentetuin en ook dierehokke vir hoenders, eende, ganse, hasies en ander. ‘n Jungle Gym is een van die nuutste toevoegings tot die terrein en verskaf veral aan die outistiese kinders vreugde. Die verfraaiing van die terrein word onderneem deur kerke, skole, individue en die sake-gemeenskap.

 

Daar is ook onlangs met ‘n groter groentetuin begin om selfvoorsienend te wees vir die kombuis. Manie Smit, wat by Q-Pro in Bethlehem werk, het die leiding geneem om die groentetuin vir die huis te ontwikkel. Hy sê hy is self lief vir tuinmaak en groente skitter reeds in netjiese beddings op New Beginnings se groot erf. Dit is vir hom belangrik dat so ‘n plek van heenkome, wat groente betref, selfvoorsienend moet wees, sover as moontlik. Hy maak erdwurm- en ander kompos en kweek saailinge vir die beddings. Die tuin is ook tot voordeel van die Meals on Wheels-kombuis wat daar bedryf word. Hy het planne vir nog ‘n groter tuin. Dit beteken vir hom baie om by New Beginnings betrokke te wees.

 

New Beginnings se bestuur is dankbaar vir die betrokkenheid van die gemeenskap by die verfraaiing van die erf. Hoërskool Witteberg se bydrae was om rose te kom plant en Jordania Primêr se Graad 7’s het groente en blomme kom plant.

 

New Beginnings is vir mense wat géén heenkome het nie en op moedverloor se vlakte beland het. Hierdie sentrum bied ondersteuning en veiligheid. Inwoners word deel van ‘n 12 maande-program. Drie maande van die tydperk is vir die hantering van innerlike pyn, teleurstellings, trauma en om deursettingsvermoë te help ontwikkel. Daarna volg ‘n dissipelskapkursus vir ses maande en die laaste drie maande volg besigheidsetiket, waar die fokus is op die ontwikkeling van persoonlike- en lewensvaardighede.

 

Daar word individueel met elk van die inwoners gewerk deur kundiges van die Bethlehem-gemeenskap. Die ideaal is om die inwoners met die hulp van terapeute, traumaberaders en die besigheidsnetwerk weer só op hul voete te kry dat hulle hul lewens met geloof en vertroue kan voortsit. Die verbintenis tot deelname aan só ‘n program is ‘n voorvereiste by die toelating van mense by New Beginnings.

 

Ten slotte is Justice aan die woord: “Die ondersteuning wat New Beginnings in die plaaslike gemeenskap ontvang is oorweldigend. Dit is nie moontlik om al die name en instansies te noem nie – te veel, hulle weet wie hulle is en hoe dankbaar ons is. Dit alles laat ‘n mens klein en nederig voel, en dankbaar dat die Here ons droom raakgesien het en so geseën het tot nou. Selfs in moeilike tye voorsien Hy altyd ‘n uitkoms. New Beginnings wil niks anders wees nie, as om mense in nood te ondersteun sodat hulle later hul pad met selfvertroue verder kan loop. Dankie aan almal wat in ons glo en ons onvoorwaardelik ondersteun.”

 

• Mense wat graag by New Beginnings betrokke wil raak kan Justice skakel of Whatsapp by 061 534 2311.




 

 

 

27 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page