Soms leer ‘n mens iemand ken wat alles in die lewe weer in perspektief plaas. Jou eie klagtes en frustrasies raak klein teenoor haar uitdagings.
Anri Roos is só iemand. Sy is ‘n baie besondere meisie wat feitlik onoorkombare struikelblokke oorwin het - ‘n inspirasie vir almal wat haar ken.
Die derde kind van Freek en Marina Roos, daardie tyd van Amanzimtoti, het by geboorte ‘n “geboortevlek” oor die een helfte van haar gesig gehad. Maar spoedig sou die ouers by die dokters hoor dat dit baie meer is as ‘n geboortevlek – sy het Sturge-Webersindroom: ‘n oormaat bloedvate wat ook die brein negatief affekteer, die oog se sig weens gloukoom wegneem en die tong, lippe en verhemelte aan die geaffekteerde kant laat swel.
Dokters het Anri nie veel van ‘n kans gegee om normaal te lewe nie, maar nie rekening gehou met haar deursettingsvemoë en die krag van wonderwerke nie!
Anri is skool toe, soos enige ander kind. Sy het net met spoed gesukkel en is daarom na ‘n skool vir kinders met spesiale behoeftes. Later het sy met tuisonderrig by ‘n tutor begin en sy het floreer! Toe die gesin so byna drie jaar gelede na Bethlehem verhuis, was die groot vraag: wie sou vir Anri kon help met tuisonderrig?
Deur navrae het hulle, deur die Vader se voorsiening, by Bethlehem Tutorsentrum uitgekom. Daar kon Anri saam met Justice en Anita Scott, oom Coenie Horak en die ander vriendelike tutors studeer totdat sy Graad 11 voltooi het. Anri se lewe van wonderwerke het nog ‘n mylpaal bereik!
In hierdie lewe van wonderwerke het nóg erge dinge gebeur. Behalwe die sindroom, het Anri ook twee ernstige beroertes oorleef, sowel as talle epileptiese aanvalle. ‘n Baba vir wie die dokters nie ‘n normale lewe voorspel het nie, is vandag 19 jaar oud.
En ten spyte van alles, is hierdie meisie met die wonderlikste persoonlikheid geseën. Sy is nie skaam nie, haar selfbeeld is uitstekend en sy laat haar deur niks onderkry nie – al is mense soms wreed en onbedagsaam.
Sy is haar mamma se vriendin, haar pappa se “Daddy’s girl” en haar twee broers is geweldig beskermend teenoor haar. Anri leef haar lewe voluit, sy staan vir niks en niemand terug nie en sy is ‘n inspirasie vir almal wat oor haar pad kom.
Laastens, die nuutste goeie nuus: Anri is deesdae ‘n assistent by dieselfde tutorsentrum in Bethlehem waar sy studeer het. Die kleintjies vir wie sy bystaan is dol oor hierdie “tannie” van hulle…
![](https://static.wixstatic.com/media/d9721d_708564650606430c822d93535e221668~mv2.jpeg/v1/fill/w_980,h_1307,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/d9721d_708564650606430c822d93535e221668~mv2.jpeg)
Comments