ChangeNetSA se Opedag by die New Beginnings-sentrum in Môrelig op Vrydag 27 Mei het groot belangstelling gelok.
Vanaf die oggend agtuur tot die middag laat was daar ‘n konstante stroom besoekers wat kom besigtig het.
Die oorweldigende gevoel was een van verwondering oor wat vermag is, en hoe pragtig die fasiliteit opgradeer is. Die slaapkamers, badkamers, ontvangsarea en Meals on Wheels-kombuis lyk vyfster, en dit alles te danke aan die gemeenskap - besighede, kerke, skole en NWO’s wat hul talente en hulpbronne gegee het. Ook individue het bygedra om die prentjie te voltooi.
Maluti FM, wat sedert 1 Mei ‘n deel van die perseel gebruik as hul basis, lyk indrukwekkend en professioneel – besoekers kon ook daar gaan kyk wat alles in rekordtyd vermag is.
ChangeNetSA wil graag waarde toevoeg tot die Môrelig-woonbuurt en ‘n aanwins wees vir die onmiddellike en die wyer omgewing. ChangeNetSA beplan om uit te reik na die gemeenskap, sodat die sentrum tot sy volle reg kan kom en tot diens kan wees. Maluti FM en Meals on Wheels op die terrein is reeds tekenend van hoe die fasiliteit die gemeenskap sal dien.
New Beginnings se doel is daarom om ‘n baken van ondersteuning en veiligheid te wees vir die hele Bethlehem en omgewing. Die sentrum sal bekend staan as ‘n “wellness centre,” waar die totale menswees holisties aangespreek word met die hulp van die gemeenskap se toegevoegde talente. Streng sekuriteit en toegangbeheer sal te alle tye toegepas word.
Die binnekant van die sentrum is tans skougehalte, nou moet die buitekant mooi gemaak word, sodat mense selfs meer trots kan wees om deel te wees van hierdie unieke toevoeging tot wat ons dorp aan mense in beproewingsvolle tye bied.
Almal is dit eens dat hierdie ontwikkeling slegs so ver kon kom met die hand van die Here oor alles.
Om betrokke te raak of navrae te rig, kontak gerus vir Leon Badenhorst by 071 608 4484.
Deur: Retha Pretorius
Comments