Bethlehem is bekend as ‘n dorp waar besigheidsmense, amptenare en deelnemers aan sporttoenooie gereeld oorbly. Die kleiner dorpe rondom Bethlehem is meer op toerisme gefokus.
‘n Pragtige, historiese gebou in die middedorp, wat vroeër jare bekend gestaan het as die Royal Hotel, is nou ‘n voorkeur-bestemming as gevolg van sy pragtige verblyf, uitstekende diens en vriendelike personeel. Judy Schultz is die eienaar van hierdie mooi gastehuis, die Royal Terrace Guest Lodge.
Sy en haar pa het saam die Royal Hotel gekoop, 16 jaar gelede, en dit omgebou tot hierdie uitstaande landmerk in Bethlehem. Die gebou het eers die hele blok beslaan, maar is toe verklein tot sy huidige grootte en pragtig gerestoureer. Judy se ouers is intussen oorlede; sy bou voort op hul nalatenskap.
Judy en haar besigheid is nou deel van ChangeNetSA se Poverty Police. Sy het die plakker op haar deur en dra ‘n bedrag per maand by, sodat armoede in ons dorp op die regte manier aangespreek kan word.
Haar fasiliteite is aan Estivan Barnard beskikbaar gestel, wat sy media-werkswinkels daar sal aanbied. Royal Terrace Guest Lodge spesialiseer in konferensies, kleiner troues vir tot 60 mense en sake-ontbyte. Daar is 21 kamers, wat drie familie-eenhede insluit (kombuis, sitkamer, twee slaapkamers, vol badkamer).
Covid het natuurlik ‘n invloed gehad, waar die besigheid in 2020 vir drie maande moes toemaak. Sake is darem nou weer op dreef, met sporttoernooie wat weer begin. Ook die howe, wat weer funksioneer, bring amptenare van die weermag, polisie, die Valke en regsgeleerdes wat oorbly. Versekeringsmakelaars en bankamptenare werk meesal van die huis af, daardie mark is dus nog nie weer aan die gang nie. Troues en feeste, wat stadig weer begin, bring ook goeie besprekings.
Judy stel vir haarself mikpunte, soos om die beste te wees wat jy as persoon kan wees. Sy leer haar personeel om almal dieselfde te behandel en die ekstra myl te stap, altyd.
![](https://static.wixstatic.com/media/d9721d_f4596e19551642ff80639250a4766443~mv2.jpeg/v1/fill/w_980,h_653,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/d9721d_f4596e19551642ff80639250a4766443~mv2.jpeg)
Comments