Vir iemand wat 86 jaar oud is en demensie moet hanteer, is die lewe ‘n uitdaging.
Na so ‘n persoon moet met groot liefde en empatie omgesien word, al kan hy nog self bad en aantrek. Justice Scott van ChangeNetSA het hierdie uitdaging in die gesig gestaar met sy bejaarde pa, oom John Scott. ‘n Versorgingsentrum is beproef, maar het nie die geborgenheid gebied wat nodig was nie.
Justice en sy vrou, Anita, is voltyds besig met hul tutorsentrums, Wiskundeklasse en met ChangeNetSA wat geweldig groei en uitbrei, en kon nie genoeg tyd aan Oupa spandeer nie.
Een van die drome van ChangeNetSA is die “My Pa”-projek, waar bejaardes op 'n dagbywoningsbasis na die New Beginnings perseel geneem word. Die Facebookplasing rondom hierdie konsep lui as volg: “My Pa is vir my belangrik en daarom is ons nou besig om ‘n plekkie, ‘n veilige en stimulerende ruimte te skep waar hy/sy kan kom kuier, geselskap geniet en sommer net hulself kan wees.”
Fransie van der Westhuizen, op haar beurt, het vroeg afgetree by die polisie se administrasie-afdeling; sy het aan die Kaapse Weskus ‘n huis begin bou. Daar het probleme ontstaan, en die huis kon nie voltooi word nie. Sy moes uit haar huurhuis, en het vir ‘n paar maande gekampeer.
Haar broer, Coenie Horak, is ‘n tutor by die Bethlehem Tutorsentrum, en daar was plek beskikbaar waar hy woon. So het Fransie opgekom van die Weskaap af, by Coenie ingetrek en begin om na oom John in dieselfde huis om te sien. Hulle het van meet af aan net eenvoudig “gekliek.” Oom John is nou gelukkig en tevrede want sy kognitiewe vaardighede word gestimuleer en hy word emosioneel versorg. Fransie het nou ‘n heenkome en vind bevrediging in die hulp wat sy verleen, en Justice en Anita kan hul lewensroeping met gemoedsrus uitvoer, wetende dat Oupa in goeie hande is.
So het “My Pa” ‘n wonderlike ontstaan gehad, en is dit in die proses om uitgebrei te word. Hierdie is die soort van oplossings vir mense se lewensprobleme waarvoor ChangeNetSA bekend is. Maar dit is alleen moontlik as die Here se leiding en ingryping deurentyd deur ChangeNetSA se leiers gesoek word – sulke oplossings kan nie deur mense bewerk word nie...
![](https://static.wixstatic.com/media/d9721d_ffea656c9322411d87f11b58ad6a8159~mv2.jpeg/v1/fill/w_720,h_1280,al_c,q_85,enc_auto/d9721d_ffea656c9322411d87f11b58ad6a8159~mv2.jpeg)
![](https://static.wixstatic.com/media/d9721d_714e887f74024c7e879a208b7697e47e~mv2.jpeg/v1/fill/w_720,h_1280,al_c,q_85,enc_auto/d9721d_714e887f74024c7e879a208b7697e47e~mv2.jpeg)
ความคิดเห็น